Nederlands-Suid-Afrikaanse Spoorwegmaatskappy

Die spoorwegnetwerk van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1899 (aan die begin van die Tweede Vryheidsoorlog).

Die Nederlands-Suid-Afrikaanse Spoorwegmaatskappy (Nederlands: Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij; afgekort NZASM) was 'n maatskappy wat in Junie 1887 in Amsterdam gestig is en 'n lisensie verkry het om die spoorweë van die Zuid-Afrikaansche Republiek te bou en te bedryf. Dit is deur Nederlandse, Duitse en Transvaalse sakelui gefinansier.[1]

Die lisensie is toegestaan op voorwaarde dat die roete van Delagoabaai na Pretoria voor einde 1894 voltooi word. Dié spoorlyn is deur die Britse ingenieur Thomas Hall opgemeet en op 2 November 1894 geopen. Die doel van die lyn was om die Zuid-Afrikaansche Republiek se afhanklikheid van die Britse kolonies in die suide te verminder. Deur 'n spoorlyn na die ooste tot in die Portugese kolonie Mosambiek te bou, kon die ZAR 'n handelsroete na die see gebruik wat nie deur Britse gebied loop nie.

Die NZASM het vyf spoorlyne gebou – die Oosterlijn van Pretoria tot by die Portugese grens wat verbind is met die Portugese spoorlyn vanaf Delagoabaai; die Zuid-Oosterlijn van Elandsfontein tot by die Natalse grens wat verbind is met die Natalse spoorweë na Durban; die Zuiderlijn vanaf Pretoria tot by the Vrystaatse grens wat verbind is met die Kaapse/Vrystaatse spoorweë na Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen; die Zuid-Westerlijn tussen Krugersdorp en Klerksdorp en die Randtrem tussen Krugersdorp en Springs.

Nadat Pretoria tydens die Tweede Vryheidsoorlog deur die Britse magte beset is, is die spoorweë deur die Imperial Military Railways bedryf en ná die oorlog deur die Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë oorgeneem. Die maatskappy is in 1908 gelikwideer.

Dit het dieselfde 3 voet 6 duim (1067 mm) breë spoor van albei die naburige Kaapse Regeringspoorweë en Natalse Regeringspoorweë gebruik. Behalwe die Randtrem, is al die spoorlyne enkelspoorlyne.

  1. (en) Davis, Clarence; Wilburn Kenneth (1991). Railway Imperialism. New York: Greenwood Press. pp. 30–33. ISBN 0-313-25966-6.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy